Zambië & Caprivi

Nationale Parke Toer


  • 10 Dae / 9 Nagte Kampering
  • 21-30 Oktober 2021
  • R17 950 per persoon

Hierdie avontuur konsentreer op die Zambesi streek(Caprivi) van Namibië en Suid-westelike Zambië.

Ons verken gebiede waar meeste mense nooit gaan nie.
Parke wat ons oor hierdie elf dae besoek is in Namibië nl. Nkasa Rupara aan die Linyantirivier, Mudumo en Bwabwata(Horseshoe bend) aan die Kwandorivier en in Zambië die Sioma-Ngwezi Nasionale Park.
Ons besoek ook die indrukwekkende Ngonye Waterval wat die 2de hoogste valle is in die Zambesirivier.

Ons kampeer in die wildernis met 4 van die Groot 5 in die gebied. Die voëlkyk en foto-neem geleenthede is uitstekend soos ons voortreis deur woude, oor vloedvlaktes en grasvelde en sonsondergange en - opkomste geniet langs die riviere.

Ons eindig op die Zambezi/Chobe vloedvlaktes, regoor die Chobe Nasionale Park.

Ingesluit:
  1. 3 Maaltye per dag - vanaf aandete dag 1 tot ontbyt dag 10
  2. Gids en Sjef
  3. Alle parkfooie
  4. 9 nagte se akkomodasie
  5. Tente en breekgoed
Uitgesluit:
  1. Voertuigonkostes bv. brandstof en grensoorgang kostes
  2. Persoonlike drankies en versnaperinge
  3. Visums indien benodig


Nkasa Rupara Nasionale Park (2 Nagte)

Ons reis begin by die Shell-garage in Kongola, van waar dit ongeveer 90 minute se rit is na die kampeerterrein. Ons maak ons tuis en geniet die Afrika geluide rondom die kampvuur. Ons spandeer die volgende dag in die park waar ons leeus, luiperds, olifante, jagluiperds, buffels en ‘n verskeidenheid wildsbokke mag sien. Daar is geen omheinigs en die diere loop vry rond.
Warm storte(donkies) en spoeltoilette.





Bwabwata Nasionale Park (2 Nagte)

Dit is ongeveer 1 uur se rit na Mudumu nasionalepark waar ons aan die oostekant van die Kwandorivier rondry. Hierdie park is bekend vir sy bastergemsbokke en swartwitpense. Ons deurkruis die park voordat ons voortgaan na Bwabwata nasionalepark toe.
Ons bly 2 nagte by Nambwa in die Bwabwata Nas. Park aan die wes-oewer van die Kwandorivier. Vandat ons die Park binnegaan is dit grondpaaie en ‘n wildrit tot by die kamp. Die volgende dag geniet ons wildsritte opsoek na wildehonde, dwergmuishonde en hopelik ‘n ratel.
Laat middag neem ons, ons kampstoele en ry na die befaamde Perdeskoen-gebied (Horseshoe bend) waar ons die sonsondergang inwag.
Dit is ‘n wonderlike ervaring om al die diere te sien wanneer hul kom drink.
Warm storte(donkies) en spoeltoilette.



Sioma-Ngwezi Nasionale Park (1 Nag)

Ons kruis weer die Kwando na die oostekant en draai Noord na Zambië. Ons gaan Zambië binne by ‘n klein en ongekende grenspos en gaan ook terselfdertyd die Sioma-Ngwezi nasionalepark binne.
Dit is sandpaaie soos ons verder noord ry en kyk uit vir wild.

Barotseland(Westelike Zambië) is nog baie onontwikkeld en ons kamp die nag is baie basies maar wel pragtig naby die Kwandorivier.
Die Kwandorivier is die grens tussen Zambië en Angola.
Dis ‘n “onontdekte” gebied en word min besoek met pragtige natuurskoon en olifante naby die rivier.
Warm storte(donkies) en spoeltoilette.



Sioma Kamp (2 Nagte)

Ons verlaat die park naby die dorpie Sioma en ry na ons kampterrein aan die Zambesirivier. Warm storte, spoëltoilette en ‘n “sunset cruise” op die Zambesi wag op ons.
Na ‘n rustige ontbyt ry ons na die Ngonye-valle, die tweede hoogste in die Zambesi. Hier kan ons heerlik swem/baai terwyl ons middagete geniet. Die agtermiddag rus ons by die kamp.
Warm storte(donkies) en spoeltoilette.



Katima Mulilo (1 Nag)

Ons kruis die grens terug na Katima Mulilo vir cappuccinos, roomys en selfs inkopies. By ons kampplek aan die Zambesi is daar 220v krag, warm storte, wifi en ‘n kontantkroeg!
Die wat wil, kan selfs probeer tiervisvang(eie koste).





Serondela boskamp (1 nag)

Net voor die Botswana-grens draai ons op die Zambesi vloedvlakte. Hierdie boskamp (put-toilette en geen storte) is naby die Choberivier oorkant die Serondela piekniek plek in Chobe nasionalepark.
Weer is daar geen heinings nie en die wild kan deur ons kamp stap.
Ons geniet ‘n riviervaart op die Choberivier wat altyd ‘n fantastiese ervaring is met die diere wat kom drink oorkant die rivier.



Huistoe

Dis nie vaarwel nie maar slegs tot ons weer ontmoet! Na ontbyt vertrek ons dan huistoe!